Antonet se geselshoekie

Hier kan ons sommer net real en prakties wees oor Christenskap


Leave a comment

Hoekom lyk jou (on)vreugde soos dit lyk?

Ons wil almal gelukkig wees. Maar soms voel dit of moeilikheid en depressie die oorhand kry. Daar kan baie oorsake wees vir jou ongelukkigheid. Vanoggend het ek een oorsaak ontdek in Matteus 25:21 en 23. Dis die gelykenis van die eienaar wat vir sy drie werkers elkeen talente uitgedeel het en toe op reis gegaan het. Die werker met vyf talente het dit verdubbel, die werker met twee talente ook, maar die laaste werker wat die een talent gekry het, het syne begrawe. Die eienaar het terug gekom en die eerste twee werkers geprys en met die laaste een geraas omdat hy niks met sy talente gedoen het nie. Ons almal ken die storie.

Iets wat ek nog nooit voorheen raakgelees het nie, is die laaste paar woorde van verse 21 en 23 wat die eienaar vir die eerste twee werkers gesê het:
“Kom in en deel in my vreugde!” 1983 Vertaling)
“Gaan in in die vreugde van jou heer” (1933/53 Vertaling)
“Enter into and share the joy (the delight, the blessedness) which your master enjoys” (Amplified)

So, as jy besig is om met die talente te woeker wat God jou gee, deel jy in sy vreugde. God is volmaak en so ook sy vreugde. Dit is dus moontlik om hier op aarde reeds deel te hê aan God se volmaakte vreugde. Wow! Wat doen jy met jou talente en watse invloed het dit op jou vreugde/ongelukkigheid?


Leave a comment

YouVersion – Die Bybel heeldag by jou

Die vraag wat ek die meeste kry is: “Hoe hoor ek God se stem?” God kan met ʼn hoorbare stem vir jou boodskappe gee, maar Hy praat hoofsaaklik met jou deur die Bybel. Ek het eendag vir ʼn man, wat vir berading gekom het, gevra of hy sy Bybel lees. Hy het baie beslis gesê dat vandat hy sy eerste TV in die 70’s gekry het, hy nog nooit weer enige iets gelees het nie – nie eers ʼn koerant nie. Dis dalk baie van ons se probleem. Ons spandeer soveel tyd voor skerms, dat ons nie meer God se stem deur sy Woord hoor nie. Let op die woord: WOORD. As jy nie lees nie, hoe kry jy woorde (Woord) in jou? Jesus sê tog Hy is die Woord (Joh.1:1).
YouVersion is ʼn fantastiese manier om die Woord altyd by jou te hê – en dis op ʼn skerm!. Dis ʼn gratis program wat jy op jou rekenaar, selfoon of tablet kan aflaai. Wat my so opgewonde maak daaroor is dat bykans elke Afrikaanse vertaling daarop beskikbaar is: Die Bybel vir Almal, die 1933/53 Vertaling, die 1983 Vertaling, Die Boodskap en die Nuwe Lewende Vertaling. Ek hou baie van die Bybel vir Almal vertaling wat vir dowes geskryf is. Dis ʼn eenvoudige, alledaagse Afrikaans wat selfs jou kinders sal verstaan. YouVersion gee jou tot die opsie om ʼn leesplan te kies wat jou help om ʼn tema (soos byvoorbeeld: vergifnis) of die hele Bybel deur te werk. Jy kan ook kies om elke dag ʼn vers te kry.
Gaan kyk na YouVersion by: www.youversion.com

Ek gee hierdie program 5 sterre
5 sterre


Leave a comment

Hoekom jy?

Al ooit gewonder wat maak jy hier? Psalm 139:13-16 sê:
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.

God is Almagtig en volmaak – Hy maak nie foute nie. Dis onmoontlik dat jy ʼn glipsie of ʼn ongewensde baba was. In die verse hierbo kan ons sien dis nie jou ouers wat jou beplan het nie – hulle was maar net ʼn instrument wat God gebruik het om jou in hierdie wêreld in te bring.

Ons is almal hier vir die volgende redes:
•Geskep vir God se plesier (Openb. 4:1 “for thy pleasure all things are created” (KJV))
•Geskep om God te eer (Jes. 43:7 “elkeen.. geskape tot My eer”)
•Geskep om God te loof en prys (Ps. 86:9 “Al die nasies wat U geskep het, sal voor U aangesig neerbuig…”)
•Geskep om ander te vertel van God (Jes. 12:4 “verkondig sy Naam”, Hand 1:8 “julle moet My getuies wees”)

Maar God het jou met unieke talente geskep vir spesifieke dinge wat net jy kan doen. Hoekom jy? Bid hierdie week oor hierdie vraag. Ek glo dat God die antwoord aan jou sal openbaar, omdat Hy graag wil hê dat jy jou skeppingsdoel moet bereik.


Leave a comment

Christelike Yoga?

Ek het onlangs ‘n DVD gekyk: Yoga Uncoiled – from East to West, deur Caryl Matrisciana. ‘n Man wat ‘n Hindu was, en nou ‘n bekeerde Christen, vertel dat Yoga ‘n Hindu filosofie is en ook een van die sakramente in hierdie godsdiens (soos wat ons as Christene die doop en nagmaal as sakrament beskou). Daar is tans kerke wat “Christen Yoga” klasse aanbied en beweer dit help jou om nader aan God te kom.


Leave a comment

Sparkling Gems from the Greek

Spraklng Gems
Sparkling Gems from the Greek, deur Rick Renner
Na my Bybel is my heel gunsteling boek definitief Sparkling Gems from the Greek deur Rick Renner. Hierdie boek breek die Nuwe Testament oop vir mense soos ek en jy wat nie Grieks ken nie. Die Grieks waarin die Nuwe Testament oorspronklik geskryf was, het soveel dieper betekenis as wat Engels en Afrikaans bied. Geweldig baie van die betekenis van woorde in die Bybel gaan verlore wanneer dit vertaal word.

Hierdie boek is in die vorm van dagstukke geskryf, so jy hoef nie die hele boek op eenslag deur te lees nie (maar die kans is goed dat jy graag sal wil). ʼn Voorbeeld uit die boek: Lukas 17:3 sê dat jy jou broer moet vergewe. Die Griekse woord vir “vergewe” is aphiemi. Rick Renner verduidelik dat dit beteken: “to set free, to let go, to release, to discharge, or to liberate completely. To forfeit any right to hold a person captive to a previous commitment or wrong he as committed”. En ons dink soms dat vergewe iets te doen het met hoe ons voel.

Ek kon nog nie hierdie boek in winkels kry nie, en bestel hom maar altyd oor die internet. Hy is tans beskikbaar by:
http://www.kalahari.com vir R389
http://www.loot.co.za vir R415

Dit klink dalk duur, maar glo my dit die beste belegging wat jy ooit sal kan maak (na jou Bybel, natuurlik!). Net om my nuwe Blog se geboorte te vier, wil ek graag een van hierdie boeke weggee. Stuur jou naam en posadres aan: antonetb@iafrica.com. Ek sal die boek gratis stuur vir die tiende persoon van wie ek ʼn epos kry. Sodra daar ʼn wenner is, sal ek dit op die blog aankondig – dan kan julle maar ophou eposse stuur, hoor!

Ek gee hierdie boek 5 volle sterre
5 sterre


Leave a comment

Welkom!

Uiteindelik, my nuwe blog! Ek hoop dat ons hier sommer net lekker kan saamgesels oor God en sy Woord. Daar is altyd ‘n wonderlike getuienis wat ander moet hoor, iets interessant om te leer en vrae waaroor ons wonder. Kom gesels gerus saam.
In Jeremia 29:14 sê die Here “Ek sal My deur julle laat vind” en in 2 Kronieke 15:15 “Hy het Hom deur hulle laat vind”. Dit klink amper soos wegkruipertjie speel. Vir my beteken dit dat God graag wil hê dat ons na Hom moet soek. Jakobus 4:8 sê: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader”. Wag ons nie dalk eenkant in ons hoekie dat God ons moet kom opsoek en al die “nader-kom” werk doen nie?