Antonet se geselshoekie

Hier kan ons sommer net real en prakties wees oor Christenskap

Media

Radio Kansel
Radio Kansel
Waarmee vul jy jou gedagtes voor jou dag behoorlik begin? My aanbeveling is dat dit Radio Kansel moet wees. By die tyd dat jy byvoorbeeld by die werk aankom, gaan jy propvol wees van goeie musiek, die nuus, verkeer, weervoorspellings, onderhoude en baie gesels deur mense wat vol passie is oor God en sy Woord. Volgens my is daar nie ʼn alternatief nie. Twee jaar gelede het ons die nuwe kar gesien wat ons vir my wou koop. Net na die toetsrit het ek met die radio gesit en speel en kon nie Radio Kansel kry nie. Ek het vir die verkoopsdame gesê dat ek graag die kar wil hê, maar net as hy Radio Kansel kan opvang. Ek weet nie wat hulle by daai garage gedoen het nie, maar die volgende dag het sy my gebel en gesê dat die radio nou Radio Kansel opvang. Ek het die kar gekoop.

Radio Kansel saai in Engels en Afrikaans uit weeksdae tot 11h00 en daarna in Afrika tale. Van 16h00 in die middae is dit weer Engels en Afrikaans. Ek daag jou uit om vir een week Radio Kansel te luister. Jy mag dalk nie weer wil terugskakel na ʼn ander stasie toe nie.

Radio Kansel is beskikbaar op die volgende maniere:
• 657AM
• 729 AM in die Kaap
• Deur middel van oudiostroom oor die internet
• DSTV oudiokanaal 882
• Op jou selfoon

Gaan kyk op die Radio Kansel website vir meer inligting: http://www.radiokansel.co.za/

YouVersion – Die Bybel heeldag by jou
Die vraag wat ek die meeste kry is: “Hoe hoor ek God se stem?” God kan met ʼn hoorbare stem vir jou boodskappe gee, maar Hy praat hoofsaaklik met jou deur die Bybel. Ek het eendag vir ʼn man, wat vir berading gekom het, gevra of hy sy Bybel lees. Hy het baie beslis gesê dat vandat hy sy eerste TV in die 70’s gekry het, hy nog nooit weer enige iets gelees het nie – nie eers ʼn koerant nie. Dis dalk baie van ons se probleem. Ons spandeer soveel tyd voor skerms, dat ons nie meer God se stem deur sy Woord hoor nie. Let op die woord: WOORD. As jy nie lees nie, hoe kry jy woorde (Woord) in jou? Jesus sê tog Hy is die Woord (Joh.1:1).
YouVersion is ʼn fantastiese manier om die Woord altyd by jou te hê – en dis op ʼn skerm!. Dis ʼn gratis program wat jy op jou rekenaar, selfoon of tablet kan aflaai. Wat my so opgewonde maak daaroor is dat bykans elke Afrikaanse vertaling daarop beskikbaar is: Die Bybel vir Almal, die 1933/53 Vertaling, die 1983 Vertaling, Die Boodskap en die Nuwe Lewende Vertaling. Ek hou baie van die Bybel vir Almal vertaling wat vir dowes geskryf is. Dis ʼn eenvoudige, alledaagse Afrikaans wat selfs jou kinders sal verstaan. YouVersion gee jou tot die opsie om ʼn leesplan te kies wat jou help om ʼn tema (soos byvoorbeeld: vergifnis) of die hele Bybel deur te werk. Jy kan ook kies om elke dag ʼn vers te kry.
Gaan kyk na YouVersion by: www.youversion.com
Ek gee hierdie program 5 sterre
5 sterre

Leave a comment