Die plafon van my studeerkamer het uitgeval. Wat ʼn gemors! Omdat ons binnekort na ʼn nuwe huis toe gaan trek, het ek die laaste paar dae sommer alles skoongemaak en in bokse gepak. Natuurlik was daar ʼn hele klomp goed wat lankal weggegooi moes word. Ek moes deur honderde CD’s, DVD’s en boeke gaan. Ek kon nie help om te dink dat al die goed wat vir my so kosbaar is, vir niemand anders iets beteken nie. As ek vandag sou doodgaan, wat los ek hier agter? Is dit iets wat ʼn verskil in ander mense se lewens gemaak het? Los ek iets met ewigheidswaarde agter, of net goed wat in die groot swart asblik gaan beland? Hmmm, wat gaan jy eendag agterlaat hier op aarde?