Radiokansel
Waarmee vul jy jou gedagtes voor jou dag behoorlik begin? My aanbeveling is dat dit Radio Kansel moet wees. By die tyd dat jy byvoorbeeld by die werk aankom, gaan jy propvol wees van goeie musiek, die nuus, verkeer, weervoorspellings, onderhoude en baie gesels deur mense wat vol passie is oor God en sy Woord. Volgens my is daar nie ʼn alternatief nie. Twee jaar gelede het ons die nuwe kar gesien wat ons vir my wou koop. Net na die toetsrit het ek met die radio gesit en speel en kon nie Radio Kansel kry nie. Ek het vir die verkoopsdame gesê dat ek graag die kar wil hê, maar net as hy Radio Kansel kan opvang. Ek weet nie wat hulle by daai garage gedoen het nie, maar die volgende dag het sy my gebel en gesê dat die radio nou Radio Kansel opvang. Ek het die kar gekoop.
Radio Kansel saai in Engels en Afrikaans uit weeksdae tot 11h00 en daarna in Afrika tale. Van 16h00 in die middae is dit weer Engels en Afrikaans. Ek daag jou uit om vir een week Radio Kansel te luister. Jy mag dalk nie weer wil terugskakel na ʼn ander stasie toe nie.
Radio Kansel is beskikbaar op die volgende maniere:
• 657 AM
• 729 AM in die Kaap
• Deur middel van audiostroom oor die internet
• DSTV audiokanaal 882
• Op jou selfoon
Gaan kyk op die Radio Kansel website vir meer inligting: http://www.radiokansel.co.za/

Louis Britz – Psalms
Louis Brittz – Psalms
Baie van ons sukkel om teksverse te memoriseer. En ons almal weet dat dit die swaard is waarmee ons teen die bose baklei. Louis Brittz het ‘n hele paar Psalms getoonset, en dit is die pragtigste musiek. Wanneer jy dit oor en oor luister, begin jy dit onthou en saam sing. En so het jy God se Woord in jou kop!
Hier is die twee albums. Dit is beskikbaar op Spotify


Juanita du Plessis – Koningskind
Ek het onlangs Juanita se Koningskind CD gekoop. Dit speel al vir weke in my kar. Sy het maar net ‘n gawe om die Woord te omskep in die mooiste musiek! My gunsteling liedjie op die CD is nommer 15,
“U is my alles:
Here U is my eerste liefde
U is my Alfa Omega, my Eerste my Laaste
U is my hele bestaan.
Vader U is my hele lewe
U is die bloed wat deur my are vloei
U is my alles“
Hierdie liedjie gee my sommer hoendervleis! Ek beveel hierdie CD ten sterkste aan

AMEN – Laat u wil geskied
Hierdie album het onlangs op die rakke verskyn. Wat ʼn verrassing! Die drie jong mans van die groep AMEN: Bernhard Faasen, Frank Panaou en Renier Bester het die pragtigste stemme. Dis regtig min dat mens ʼn CD kry waarop elke liedjie mooi is. “Laat U wil geskied” is so ʼn CD. Hy is nou by CUM beskikbaar en kos R109.95

Fernando Ortega – The Shadow of Your Wings
Om hierdie musiek te hê is soos om ʼn kosbare juweel te hê – super mooi en baie duur. Ek het Fernando Ortega se musiek ontdek toe ʼn vriendin vir my een van sy liedjies as ringtone vir my selfoon gee. Ek gebruik dit (Give me Jesus) nou nog om in die oggend mee wakker te word.
Fernando het ook ander CD’s uitgebring, maar in my opinie is The Shadow of Your Wings by verre die mooiste een. Die musiek is rustig en net die ding om jou te laat ontspan na ʼn rowwe dag of deel te maak van jou stiltetyd. Van die ander CD’s wat Fernando uitgebring het, het liedjies op met weird woorde en klanke wat vir my klink soos iets in ʼn Rooms Katolieke erdiens.

Retief Burger
Ai, wat kan ek sê van hierdie man se stem? Ek dink al die engele in die hemel sing soos Retief Burger – that’s my story and I’m sticking to it! Hy het al 4 “grootmens” CD’s vrygestel (Luidkeels, Luidkeels Hersien, Luidkeels Oorgegee en Luidkeels Dieper) en 2 vir die kinders (LuidKidz en LuidKids 2). Behalwe vir die feit dat Retief musiek maak wat mooi is om te luister, het die woorde soveel betekenis en spreek regtig tot jou gees.

