
Lees hierdie amazing stories van hoe die Here al in mense se lewens gewerk het..
Riana Graham – Genoeg kos vir almal
Ons was op ‘n uitreik waar ons broodjies moes uitdeel aan behoeftiges. Daar was so baie mense wat ‘n broodjie met maalvleis moes kry. Ek was deel van die span wat die broodjies gemaak het, en het geweet dat daar net 100 broodjies in die kratte was. Sover as wat die oog kon sien was mense wat kos wou hê. Hulle het in ‘n ry gestaan, reg rondom die geboue en ek was die enigste een wat 1 broodjie vir elk gegee het. Ek kon sien hoe die broodjies al hoe minder raak en die tou net al hoe langer. Al wat ek aanhoudend kon bid en smeek was “2 vissies en 5 broodjies”. Aan die einde van die uitdeel was daar nie meer ‘n ry nie, maar party het terug gekom vir nog ‘n broodjie. Daar was nog broodjies oor, wat ons toe later kon uitdeel by ‘n plakkerskamp.
Rika Jacobs – Genesing
My naam is Rika en ek is gebore in Jacobsdal, ‘n klein dorpie in die Vrystaat.
As kind het dit goed met my gegaan. Ek was slim en het goed gedoen op skool. Maar in 1979 het alles verander.
Een oggend moes ek skool toe gaan, maar het so ’n hoofpyn gehad dat ek gehuil het van die pyn. My ma het gesê ek moet by die huis bly, en deur die loop van die dag het ek beter gevoel. Die aand het ek weer begin sleg voel.
Die volgende oggend het ek weer hoofpyn gehad, maar hierdie keer het my pa gesê dat ek moet skooltoe gaan. Ons het buite gespeel, toe ek begin dronk voel en teen ‘n paal vasloop. Ek het begin stuipe kry en die onderwyseres het my ouers gebel. My ma het my kom haal. Sy kon my skaars in die kar kry omdat my lyf so styf getrek was.
Die dokter het my een kyk gegee en gesê dat my pa vinnig hospitaal toe moet ry, as hy my lewendig daar wil kry. By die hospitaal het die dokters ons ingewag. Ek is dadelik ICU toe, en hulle het met toetse begin. Dit was Breinvlies en Rugmurg ontsteking. My koors was 45 en dis hoekom ek stuipe gekry het.
Ek was vir 3 maande in die hospitaal . Ek was aan lewensmasjiene gekoppel en was blind, doof en verlam. Daar was geen hoop dat ek ooit weer gesond sou word nie.
Maar die dokters het van God vergeet…
Die dokters het my klinies dood verklaar, en my ouers moes die besluit neem of ek van die masjien afgehaal kon word. My pa se reaksie was dat as sy dogter moet doodgaan, sy in haar eie kamer by die huis moet doodgaan. Ek is huistoe gestuur en moes daar met ‘n neusbuis gevoer word, want ek kon nie sluk nie.
Die hele gemeenskap het vir my kom bid.
Een Sondagoggend het my broer langs my op die bed gesit. Skielik kon ek my hande beweeg. Hy het my ma geroep. Teen die tyd dat sy daar aangekom het, het ek my oë begin oopmaak. Na nog so 15 minute het ek begin mompel, maar hulle kon nie uitmaak wat ek sê nie. So ‘n uur later kon ek weer stuk-stuk begin onthou.
My pa het van die kerk af gekom. Ek onthou hy het ‘n wit hemp en swart broek aangehad. Hy het in die kamerdeur kom staan en gevra hoe dit gaan. Toe ek hom sien, het ek gesê:
“Pappa ek is honger.” Hy vra toe vir my ma hoekom sy nie vir my iets gee om te eet nie. Sy het vir hom die voedingsbuis gewys en gesê dat ek nounet kos gehad het. My pa het vir my gekyk en gesê: “STAAN OP EN GAAN HAAL VIR JOU BROOD!!!”
So sukkel-sukkel het ek opgestaan. Ek was nog baie dronk in my kop en my bene wou nie behoorlik loop nie. Omdat my oë nog nie behoorlik kon sien nie, het ek op gehoor van iemand se stem geloop. My broer en ouers het gehuil.
Omdat ons in ‘n klein dorpie gebly het, het my ma net nodig gehad om een persoon te bel, en die hele dorp het geweet ek is wakker.
Die volgende dag het my ma die dokter gebel en vir hom gesê dat ek loop. Sy woorde aan haar was: “Sê ek moet haar doodsertifikaat uitskryf dan doen ek dit, maar loop sal sy nooit weer nie.”
Maar hy het van God vergeet…
My ouers het my in die kar gesit en na die dokter toe gery. Omtrent die hele dorp se mense was daar. My ma het my uit die kar gehelp en my teen die kar laat leun. Sy het aan die ander kant gaan staan en my geroep. Ek het na haar toe begin stap. Almal wat daar was het gehuil oor hierdie kind wat kan loop. Vir jare daarna het ek nog gesukkel om te sien en moes baie lumbar punctures in my rug kry. Die oorsaak van my siekte was masels wat ingeslaan het.
Ek is op ‘n stadium weer terug skool toe. Maar niks was weer dieselfde nie en ek het daar gesukkel. In my tienerjare moes ek hoor dat, as gevolg van my siekte, ek nooit ‘n kind kan hê nie. Maar die dokters het van God vergeet, want op 31 het ek ‘n pragtige gesonde dogter gekry. Vandag is ek 53 en behalwe ‘n hoofpyn af en toe, makeer ek niks.
Ek besef dat dit my pa was wat daai Sondagoggend in die kamerdeur gestaan het, MAAR EINDLIK WAS DIT DIE HERE IN MY PA SE LYF. Dis eintlik God wat vir my gesê het: “STAAN OP EN GAAN HAAL VIR JOU BROOD.”
Prys die HERE!
